2010-4-10
 Adam Ashley-Cooper stamp Sarel Pretorius af - Foto: Backpagepix Die Brumbies het die Vrystaters Saterdag in Canberra afgegooi in hul grootste oorwinning nog oor die Land van Oranje: 61-15. Dit is die derde keer in ses wedstryde dat die Brumbies ‘n vyftigtal of meer teen die Cheetahs, wat nog nooit ‘n wedstryd in Australië of Nieu-Seeland kon wen nie, aanteken.
Nou lê die Crusaders en Chiefs soos ‘n berg voor die Cheetahs en wag.
Die Brumbies het aanvanklik gesukkel om die Vrystaters uit die saal te kry, maar toe hulle eers gallop het Adriaan Strauss-hulle gesukkel om bo te bly.
Die Brumbies kon net drie drieë in die eerste helfte druk, een boonop kort voor rustyd toe Tyrone Smith teruggesny het om onder die pale te druk.
Na rustyd het die damwal egter gebars en het die Brumbies ses verdere drieë ingeryg, onder andere twee deur die loskopstut Ben Alexander.
Hoekom die Cheetahs so lank wag om Sarel Pretorius op die veld te kry, weet nugter. Hy was skaars op die veld toe begin die Cheetahs die eerste keer meeding.
Pretorius het self een van die Cheetahs se drieë gedruk en ook die hardwerkende kaptein Adriaan Strauss s’n aangevoer.
Met vreemde spankeuses – ook spelers wat by die huis gelos is – skiet die Cheetahs hulself in die voet,
Punte:
Brumbies: Drieë: Ben Alexander (2), Adam Ashley-Cooper, Ali Mafi, Matt Toomua, Patrick Phibbs, Rocky Elsom, Stephen Hoiles, Tyrone Smith. Doelskoppe: Matt Giteau (6), Julian Huxley (2).
Cheetahs: Drieë: Sarel Pretorius, Adriaan Strauss. Doelskop: Riaan Viljoen. Strafdoel: Naas Olivier. |