2010-4-23
 Naas Olivier lê aan pale toe - Foto: Backpagepix In rugbyterme is dit ‘n wonderwerk, maar die Cheetahs het Vrydagoggend in Hamilton daarin geslaag om gelykop, 25-elk, met verlede jaar se finaliste, die Chiefs, te speel. Die tuisspan was heeltemal die kluts kwyt en veral hul skopwerk was beroerd.
Die Chiefs het vyf drieë gedruk vir hul 25 punte en tussen Stephen Donald en Cullum Bruce het hul met al sewe hul pogings pale toe misluk. Dit was veral in die eerste helfte toe hulle in beheer was, dat hul skopwerk ‘n groot verskil kon maak.
Ná rustyd het die Cheetahs twee drieë, eers deur WP Nel en toe deur Meyer Bosman, gedruk om 22-20 voor te loop voordat Liam Messam met 20 minute oor hul vyfde drie gedruk het om weer die voortou te neem.
Naas Olivier, wat twee drieë verdoel het en met twee strafdoele geslaag het, het met tien minute oor met ‘n strafdoel geslaag om die gelykop-uitslag af te dwing.
Hoewel die Chiefs in die laaste 20 minute ‘n rits All Blacks opgestuur het, was hul spel deurspek met foute en kon hulle nie twee aangeë na mekaar vashou nie.
Punte:
Cheetahs: Drieë: Devon Raubenheimer, WP Nel, Meyer Bosman. Doelskoppe: Naas Olivier (2). Strafdoele: Olivier (2).
Chiefs: Drieë: Colin Bourke, Dwayne Sweeney, Hika Elliot, Toby Smith, Liam Messam. |