2010-5-12
Louis in Cheetah-buiging
Louis Strydom lê aan pale toe - Foto: Backpagepix

Louis Strydom maak Saterdag in Welkom teen die Leeus sy Super 14-buiging vir die Cheetahs. Strydom is op die bank ingesluit as tweede skopper met die nuus dat Meyer Bosman moontlik dié kragmeting weens ‘n borsbesering mag misloop.

Strydom is in Danwel Demas se plek op die bank ingesluit terwyl Corné Uys ingepen is om in Bosman se plek op te draf, maar die Vrystaters laat die agterdeur vir Bosman oop sou hy betyds van die skeurtjie in ‘n borsspier herstel.

Strydom spog met 129 eersterangse wedstryde by die Griffons, Valke, Leeus en Cheetahs en hy het in twaalf Super 14-wedstryde vir die Leeus oor twee seisoene gespeel.

Indien Bosman wel speel, sal Uys op vleuel uitdraf soos teen die Force, andersins sal Wilmaure Louw vleuel speel.

Strydom was puik vir die Vrystaat in die Vodacombeker-eindstryd teen die Blou Bulle en korrel dodelik pale toe.

Cheetahs vs. Leeus: Hennie Daniller; Bjorn Basson, Robert Ebersohn, Meyer Bosman/Corné Uys, Corné Uys/Wilmaure Louw; Naas Olivier, Sarel Pretorius; Philip van der Walt, Juan Smith ©, Hendro Scholtz, Barend Pieterse, Izak van der Westhuizen, WP Nel, Skipper Badenhorst, Wian du Preez. Reserwes: Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen, Waltie Vermeulen, Davon Raubenheimer, Marnus Hugo, Louis Strydom, Riaan Viljoen.