2010-4-17
 Ryan Crottyduik oor met Barry Geel op sy rug - Foto: Backpagepix Die Cheetahs het in hul laaste drie wedstryde ‘n totaal van 38 punte aangeteken teenoor die 146 van hul teenstanders en vier drieë teenoor die 19 van hul teenstanders gedruk nadat hulle Saterdag in Christchurch 45-6 teen die Crusaders verloor het.
Die Cheetahs is in doodloopstraat in die Super 14 en daar blyk nie ‘n GPS-koordinaat te wees wat hulle daaruit kan kry nie. Teen die Crusaders kon hulle net twee strafdoele oorskop terwyl Richie McCaw se verswakte Crusader-span ses drieë gedruk het.
Die eerste het gekom nadat die Crusaders besit omgekeer het en die skrumskakel Kahn Fotuali’i agter die skrum eers regs en toe vinnig links gebreek het, agter die skrum omgehol het en sowat 40 meter genael het om te druk.
Daarna was dit die beurt van Ryan Crotty wat na volgehoue druk deur die Crusaders en desperate verdediging deur die Cheetahs die een was wat reguit gemaak en oor die doellyn geduik het.
Kort hierna is die Cheetahs se losskakel Riaan Viljoen, met wat gelyk het soos ‘n heupbesering van die veld, deur Meyer Bosman vervang. Maar dit het nie werklik veel van ‘n verskil aan die Cheetahs se arsenaal gemaak nie en geen wit-en-oranje-trui kon die voordeellyn oorsteek nie.
Sarel Pretorius het baie hard probeer maar die res van sy spanmaats het nie partytjie toe gekom nie. Telkens wanneer hy flink gebreek het, was daar niemand om te ondersteun nie.
Die Crusaders daarenteen, het altyd ‘n ondersteuner gehad wat opgeduik het om die beweging verder te neem.
Die Cheetahs het groot probleme in hulle skrums en veral WP Nel het geknor.
Aan die tuisspan se kant was niemand beter as die agtsteman Thomas Waldrom nie. Hy het twee van sy span se drieë gedruk en die Vrystaters het net nie antwoorde vir sy stormlopies gehad nie.
Die eerste was na ‘n skrum op die Cheetahs se doellyn. Die Crusaders het eenvoudig begin loop met die skrum en al wat Waldron moes doen, was die bal beheer en hom toeval. Kort voor rustyd het Waldron sy tweede gedruk en die spanne het gaan rus met telling op 26-6.
Manne wat in die tweede helfte die doellyn oorgesteek het, was Sean Maitland, Ben Franks en Zac Guilford.
Punte:
Crusaders: Drieë: Thomas Waldrom (2), Kahn Fotuali’i, Ryan Crotty, Sean Maitland, Ben Franks, Zac Guilford. Doelskoppe: Colin Slade (5).
Cheetahs: Strafdoele: Riaan Viljoen, Meyer Bosman. |