2010-5-1
Oranje Blanje Blues
Robert Ebersohn teen die Blues - Foto: Backpagepix

Die Cheetahs het die Blues Saterdagmiddag in Bloemfontein finaal uit die wedloop om ’n Super 14 halfeindstryd gehaal deur die Aucklanders 36-23 te klop.

Voor in die koor vir die tuisspan was ’n begeesterde Juan Smith en ’n giftige Sarel Pretorius, maar die Cheetahs kan hulle sterre dank dat die Blues nie hul ongeorganiseerde verdediging meer uitgebuit het nie.

Dit gesê, welgedaan aan Naka Drotske se manne wat hul derde wen vanjaar kon beklink en die eerste keer vier of meer drieë kon druk.

Die eerste hiervan was in die tweede minuut toe Smith twee verdedigers geklop het deur eers binnetoe af  te trap en toe langs die linkerreggoppaal oorgeduik het.

Vier minute later duik Isaia Toeava oor na die Cheetahs soos afkop hoenders misgetas het waarna Smith vir Jongi Nokwe met ’n perfek geplaasde rolskop deurgejaag het.
 
Pretorius was die argitek van die Cheetahs se derde drie toe hy ’n vinnige tikskop geneem het waarna Bjorn Basson kon gaan afrond.

Die Blues het egter met mening terug geslaan toe Rene Ranger ’n minuut of wat na halftyd oor is. In die 56ste-minuut fnuik Alby Mathewson die plaasvervanger-losskakel Riaan Viljoen met ’n fopaangeë en die Blues neem die voortou 27-22.

Dit was wel van korte duur toe Phillip van der Walt, wat Hendro Scholtz weens ’n bloedbesering vervang, gedruk het vir sy span se vierde drie. Klaar gedruk, toe word Scholtz weer opgestuur.

Met die Cheetahs 29-27 voor, het Ryno Barnes die bal veldaf geskop en Walti Vermeulen het met groot genot die Gilbert net voor die doelyn opgeraap en oorgeduik.

Die Blikore kon hulself skop toe Anthony Tuitavake hulle vir hul swak lakwerk met vyf-punte laat boet het en ’n riller van ’n laaste paar minute het die tuisskare op die punte van hul stoele gehad.
  
Durf is ’n ingebore ding in die Vrystaat en dié wen was hulle s’n, maak nie saak hoe vasbeslote die Blues was om dit in die doodsnikke weg te raap nie. 

Punte:

Cheetahs: Drieë: Juan Smith, Jongi Nokwe, Bjorn Basson, Phillip van der Walt, Waltie Vermeulen. Doelskoppe: Naas Olivier: (3), Meyer Bosman. Strafdoel: Olivier.

Blues: Drieë: Isaia Toeava, Rene Ranger, Alby Mathewson, Anthony Tuitavake. Doelskoppe: Stephen Brett (3). Strafdoele: Brett (2).