2010-6-28
Griffons veg verbeter terug
OP vs Griffons Cravenweek

Die Griffons het die OP Platteland Maandagmiddag in Welkom 28-25 geklop nadat hulle met ’n terugvegpoging vorendag gekom het wat Dok Craven breed sou laat glimlag. Die Griffons was na 24-minute reeds 22-0 agter.

Die Griffons het ’n drag slae op hande gehad nadat die OP blitsig uit die blokke was en drie drieë ingeryg het. Die oud Noordoos-Kaap het die wedstryd in so ‘n mate beheer dat die uitslag amper ’n uitgemaake saak was.

Eers het Deswill van den Berg, toe Charles Theron en daarna Jamion Booyes oorgeduik met Ntsikelelo Mlamleli wat ’n strafdoel en twee doelskoppe oorgestuur het. Die Olifante het die telbord teen amper ’n punt-per-minuut aan die rol gehou.

Die Griffons se vuurvreterflank en kaptein, Cloete Wessels, het met sy spanmaats agter hom oorgebeur en dit was die hap wat die Pers Mensvreters se aptyt aangewakker het.

Kort daarna het die Griffons ’n vaskop naby aan die OP se doellyn gewen en Buran Parks is oor vir die Griffons se tweede. Ryno Venter het albei verdoel.

Net na die omdraaislag het loskop Rewaan Rodgers die eerste punte van die tweede helfte aangeteken en die vaskop Pierre Botes het die Griffons se vierde gedruk en Ryno Venter was in die kol met al sy doelskoppe.

Meer aanskoulik en vermaaklik kry jy nie.

Punte:

Griffons: Drieë: Cloete Wessels, Buran Parks, Rewaan Rodgers, Pierre Botes. Doelskoppe: Ryno Venter (4).

OP Platteland: Drieë: Deswill van der Berg, Charles Theron, Jamion Booysen. Doelskoppe: Ntsikelelo Mlamleli (2). Strafdoele: Mlamleli (2).