2010-5-5
 Skipper Badenhorst druk vir die Vodacomspan - Foto: Gallo Images Skipper Badenhorst maak Saterdag in Bloemfontein sy buiging vir sy derde Super 14-franchise wanneer hy vir die Cheetahs teen die Western Force uitdraf.
Badenhorst het reeds 20 keer vir die Sharks Super-rugby gespeel en twee keer vir die Stormers. Die haker is al amper ’n veteraan in Suid-Afrika met 139 eersterangse wedstryde op sy kerfstok: Valke (52), Pumas (33) en Sharks (54).
Sy insluiting in die Cheetahs-span is een van vier veranderinge wat Naka Drotské aan die span gemaak het wat verlede week op verrassende wyse met die Blues klaargespeel het.
Behalwe vir Badenhorst se insluiting ten koste van Ryno Barnes is WP Nel, Philip van der Walt en Corné Uys ook ingesluit.
Badenhorst het hoofsaaklik vanjaar vir die Vrystaat in die Vodacomreeks gespeel en ‘n paar wedstryde op die Super 14-bank gesit. Met Adriaan Strauss se skouerbesering is Barnes ingespan.
Die besering aan die Springbok Jongi Nokwe is ‘n groot terugslag vir die Cheetahs en Uys is op vleuel in sy plek gekies. Nokwe het sy kakebeen in die Blues-stryd gebreek.
Nel vervang Kobus Calldo, wat goed gedoen het teen die Blues. Van der Walt vervang Frans Viljoen wat sy arm teen die Blues gebreek het. Davon Raubenheimer is op die bank.
Marnus Hugo is in Tertius Carse se plek as plaasvervanger-skrumskakel ingesluit.
Cheetahs vs. Western Force: Hennie Daniller; Bjorn Basson, Robert Ebersohn, Meyer Bosman, Corné Uys; Naas Olivier, Sarel Pretorius; Philip van der Walt, Juan Smith ©, Hendro Scholtz, Barend Pieterse, Izak van der Westhuizen, WP Nel, Skipper Badenhorst, Wian du Preez. Reserwes: Ryno Barnes, Coenie Oosthuizen, Waltie Vermeulen, Davon Raubenheimer, Marnus Hugo, Danwel Demas, Riaan Viljoen
*Calldo en Carse versterk die Vodacomspan vir die eindstryd in Pretoria teen die Blou Bulle.
Hulle insluiting, asook Boom Prinsloo en George Whitehead se terugkeer, is die enigste veranderinge aan die span wat in die halfeindstryd met die Boland klaargespeel het. Riaan Vermeulen is die man wat vir Calldo moet plekmaak en afskuif bank toe. Carse is in Piet van Zyl se plek ingesluit en hy hou die bank ook warm terwyl Prinsloo in Chris Dry se plek gekies is.
Vrystaat vs. Blou Bulle: George Whitehead; JW Jonker, Philip Snyman, Barry Goodes ©, Kholo Ramashala; Louis Strydom, Tertius Carse; Ashley Johnson, Boom Prinsloo, Johan Wessels, Philip Steyn, Francois Uys, Kobus Calldo, PW van Vuuren, Charles Marais. Reserwes: Hercu Liebenberg, Riaan Vermeulen, JC Astle, Fanie van der Walt, Piet van Zyl, Sias Ebersohn, Wayne Stevens. |