2010-4-20
Smith lei Cheetahs
Juan Smith in aksie teen die Blues - Foto: Backpagepix

Die Springbokflank Juan Smith is terug om die Cheetahs Vrydag in Hamilton teen die Chiefs te lei. Hy neem die kapteinskap oor by Adriaan Strauss, wat die wedstryd van die bank af begin.

Smith se teenwoordigheid – sy leierskap en veral sy spel – sal sy spanmaats soos gewoonlik tot groter hoogtes aanspoor. Hy vervang Barend Pieterse, wat die eerste keer vanjaar ‘n wedstryd op slot begin.

Die Springbokstut Wian du Preez is ook terug in die voorry nadat hy onverklaarbaar ‘n ruk op die bank was en Ryno Barnes is die haker in Strauss se plek. Die vaskop WP Nel, wat die afgelope ruk swaar in die skrums leef, het egter sy plek behou.

Die Cheetahs het die losskakel Naas Olivier weer terug in die beginspan en Meyer Bosman is weer langs hom op binnesenter. Die Springbok Riaan Viljoen is weer terug op die bank waar hy as ‘n impakspeler aangewend sal word maar Barry Geel verloor sy plek in die 22-tal.

Cheetahs vs. Chiefs: Hennie Daniller; Danwell Demas, Corné Uys, Meyer Bosman, Jongi Nokwe; Naas Olivier, Sarel Pretorius; Davon Raubenheimer, Juan Smith ©, Hendro Scholtz, Barend Pieterse, Isak van der Westhuizen, WP Nel, Rayno Barnes, Wian du Preez. Reserwes: Adriaan Strauss, Coenie Oosthuizen, Nico Breedt, Phillip van der Walt, Tewis de Bruyn, Riaan Viljoen, Robert Ebersohn.