2010-7-17
Affies maak geskiedenis
Poerie van Rooyen en Nardus van der Walt - Foto: SA Rugby

Die Afrikaanse Hoër Seunskool het vanjaar die eerste keer in sy geskiedenis drie verteenwoordigers in die SA Skolespan wat sy totaal tot 19 opskuif.

Geen van die Affies se SA Skole-sterre kon egter al daarin slaag om Springbokke te word nie en die agtsteman Nardus van der Walt, skrumskakel Poerie van Rooyen en die reserweslot Schalk van Heerden sal dit graag wil regstel.

Affies het verlede jaar twee Klein Bokkies, die stut Juan Schoeman en die skrumskakel Lohan Jacobs in die SA Skolespan gehad en die vorige jaar het die slot Andries Ferreira die span verteenwoordig.

Die wedloop om Springbokkleure sal deur die huidige drie sterre, asook die stut Frik Kirsten (2006) en die flank Derick Kuun (2002) gelei word.

Hier is wat die afrigter Sakkie van der Walt oor sy drie sterre te sê het:

“Nardus is ’n sterk, vinnige en baie vaardige agtsteman. Hy was deel van ons Onder 19-aflosspan wat die SA rekord vanjaar verbeter het. Behalwe vir sy spoed is hy ook ’n baie fisieke speler.

“Poerie is ’n lang, lenige skrumskakel met baie vaardighede. Hy het ’n goeie rugbybrein op sy kop en hy is rateltaai. Hy is ook uiters veelsydig en kan enige posisie in die agterlyn speel. Dan het hy ook ’n hoë werksetiek én kan met sy linkervoet skop.

“Schalk is Moaner (Van Heerden) se jongste seun, so hy het rugbybloed in sy are. Hy is ’n harde, fisieke speler, net soos sy pa. Schalk is veral uitstekend in die lynstane en verloor omtrent nooit sy eie bal nie. Hy is ook ’n klipharde speler wat onder sy teenstander se psige inklim.”

Affies se lys SA Skole-spelers:

1991: Bennie Botes
1995: Riaan Olckers
1996: Nicolaas Alberts
1997: Tiaan Snyman, Eduard Coetzee
1998: Tiaan Snyman, Robbie Janse van Rensburg
1999: Kobus van der Walt
2000: Rudolf van der Westhuizen
2001: Cliffie Milton, Deon Venter
2002: Cliffie Milton, Derick Kuun
2006: Frik Kirsten, Cornell Hess
2007: Cornel Hess
2008: Andries Ferreira
2009: Juan Schoeman, Lohan Jacobs
2010: Poerie van Rooyen, Nardus van der Walt, Schalk van Heerden